21/12/2023
Christus fees Gebed.
Hemelse Vader,
Ons staan nederig voor U in dankbaarheid en aanbidding hierdie Kersfees. Ons eer U vir die onbeskryflike geskenk van u Seun, Jesus Christus, wat meer as 2000 jaar gelede gebore is om vir ons die weg tot verlossing te wys.
Dankie, Here, dat ons die voorreg het om hierdie tyd van vreugde en hoop te mag beleef. Ons buig voor U met harte vol waardering vir die Genade en Liefde wat U aan ons bewys het deur Jesus Christus. Ons besef dat U ons altyd ken, selfs die diepste gedagtes en begeertes van ons harte.
Here, ons bring ons wense en verlange by U. Mag hierdie Kersfees 'n tyd wees van ware vrede, lydsaamheid, liefde en geduld. Laat hierdie seisoen nie net 'n herdenking wees nie, maar 'n diep ervaring van U teenwoordigheid in ons lewens.
Vul ons harte met u liefde, sodat ons dit kan uitstraal na ander. Mag ons elke dag van hierdie Christusfees tydperk in Gebed en lofgesange deurbring, en mag ons die ware betekenis van Christus se geboorte deel van ons lewens maak.
Ons verklaar vrede oor onsself, ons geliefdes, en die wĂŞreld om ons heen.
Mag U lig altyd die duisternis verdryf, en mag U liefde heers in elke hart.
Dankie vir Jesus Christus, ons Verlosser, en vir die kosbare gawe van ewige lewe deur Hom.
Mag U seën ons, leef in ons, en lei ons na U wil.
Dankie vir al U onmeetbare Liefde en Genade. Dit is al wat ons nodig het.
In die naam van Jesus Christus, ons Here en Verlosser, bid ons.
Amen.